My tuis-stad van Kaapstad is die middel-punt van die sokker-wêreld hierdie week (Vrydag om 7nm. SA tyd, Saterdag-oggend 1vm Hong Kong tyd) wanneer die finale loting vir die FIFA WêreldBeker in 2010 by die Kaapstadse Konferensie Sentrum (KIKS) plaasvind.
In regte “sokker-koninklike” styl, is daar selfs ‘n moratorium geplaas op all lugvaart-bedrywigdhede oor die Moederstad! FIFA president Sepp Blatter en sy sogenaamde “sokker koninklikes” (soccer royalty) laat sekerlik geen klip onaangeraak nie.
Dit alles gesê, ten minste raak dinge nou ten einde laaste bietjie meer besig wanneer dit kom by volgende jaar se skouspel… My wêreld, vir die eerste keer word dit deur ‘n Afrika-land, ons eie Suid Afrika aangebied!
Soos nou die aand by Delaney’s in Wan Chai toe ek lekker Afrikaans met besoekers uit SA kon praat, is dit baie lekker om hierdie verslag ook in Afrikaans te kan doen!
Die Burger se Marelize Barnard sien dit so:
Dié week draai die aarde hier om die Fifa-sokkerbal met wêreldsokkersterre, die invloedrykste sokkerbase en die blinkste in die blieng-kringe wat hier is vir die sokkerloting.
Watter fees der feeste dit beloof, was gisteraand reeds duidelik met Heerengracht en Adderleystraat wat gewemel het van gesinne, gaste van die Kaapse stadsraad en internasionale en plaaslike media.
Hulle het gedans, karnaval gehou, modes bekyk en die skouspel met die aanskakeling van die feesligte geniet. En dit is net die begin. Vandeesweek trek die Moederstad haar partytjierok aan, want baie belangrike mense is op pad.
Die besoekers sluit in sokkerlegendes, sterre, internasionale politici en die Fifa-familie.
Die Brasiliaan Pele, sir Bobby Charlton, wat in 1966 in die Engelse wêreldkampioenspan was, en Franz Beckenbauer van Duitsland is van die legendes wie se name in die oor gefluister word.
Die sokkersuperster David Beckham sal glo net vinnig vir 24 uur hier wees. Sy Kaapse draai is spesiaal om te kom flikflooi sodat Engeland die Wêreldbeker-toernooi in 2018 kan aanbied.
Cristiano Ronaldo, verlede jaar se Fifa-wêreldsokkerspeler van die jaar, en die Argentynse sensasie Lionel Messi kom ook.
’n Geskatte 150 miljoen mense van oor die wêreld heen gaan Vrydag na die regstreekse televisie-uitsending van die finale loting kyk wat vanaf die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) uitgesaai gaan word.
Sterre soos Charlize Theron en die Grammy-wenner Angélique Kidjo gaan daar wees. Die loting is om 19:00, met ’n spoggerige verwelkomingsparty voor die tyd.
Die twaalf uur lange straatfees Vrydag in Langstraat gaan ’n groot partytjie wees, waar die loting met ’n direkte verbinding met die Kiks uitgesaai gaan word. Sowat 15 000 plaaslike partytjiegangers en oorsese besoekers word tussen 12:00 en middernag verwag. Tafelberg gaan Vrydagaand tot middernag belig word sodat dié natuur-ikoon ook haar regmatige plek op die wêreldverhoog kry.
Maar eers is dit ernstige sake met ’n buitengewone vergadering wat deur die Fifa-president, mnr. Sepp Blatter, byeengeroep is vir Woensdag. Daar is ook ’n vergadering Donderdag op Robbeneiland waar sokkerkwessies bespreek gaan word.
Mnr. Dan Plato, burgemeester, het gisteraand by die feesliggie-vieringe gesê dit is in Kaapstad se belang dat al die sterre wat hierheen kom só ’n goeie ontvangs kry dat hulle teruggaan en ambassadeurs vir die stad word.













